
Klankgolwe: Weg Stories
Elke week word een van die beste stories uit Weg-tydskrif se argiewe voorgelees, insluitend rubrieke, reisverhale, onthou-stories en wildstories in Afrikaans. Daar word ook met die skrywers gesels oor hul werk. Die podcast is deel van Netwerk24 se Klankgolwe-platform en bied bonusepisodes aan. Luisteraars kan elke week 'n nuwe voorlesing en gesprek verwag.
Episodes

49. So byna was ek 'n Himba. Met Sophia van Taak
Ons reis om te sien hoe mense anders as ons lewe. Maar soms is juis dít wat ons met vreemdelinge gemeen het, wat ons die meeste verras.

48. Wat is cool? Met Toast Coetzer
Dis goed om “cool” te wees, maar nie te cool nie. Maar hoe weet jy wanneer jy cool is? Of te cool? Of nie cool genoeg nie?

47. Om 'n boomhuis te bou. Met Francois Haasbroek
Toe jy nog 'n laaitie was, het jy óf 'n boomhuis gehad óf jy wou een hê. Luister hier hoe jy een bou.

46. As Moeder Natuur haar strip. Met Evan Naudé
In ’n mens se jeug vang jy dinge aan waaroor jy nou lag, maar wat jy nie sommer weer wil beleef nie. Evan Naudé onthou ’n kampvakansie toe Moeder Natuur hom deeglik beproef het.

45. Met 'n Cortina en 'n Gypsey op 'n plaaspad. Met Zigi Ekron
Lank voor die eerste boendoe-karavaan bestaan het, het Zigi Ekron se pa met ’n gewone Gypsey gery waar min 4x4’s dit sou waag.

44. Op die spoor van James Bond. Deur Dana Snyman
Om te reis is nie altyd maklik of lekker nie. Soms is dit spanningsvol – soos wanneer jy skool “bunk” om ’n James Bond-fliek te gaan kyk.

43. 'n Ding wat ruk. Met Evan Naudé
Tussen die manne moet jy darem jou manlikheid kan handhaaf, maar dis makliker gesê as gedaan wanneer jy ’n nuwe vaardigheid moet aanleer. Vir die 4x4-groentjie Evan Naudé was dit ’n ruk-ruk ervaring om sy eerste opleiding agter die rug te kry.

42. Die les van 'n gebore kampeerder. Met Zigi Ekron
’n Mens hoef nie ’n gebore kampeerder te wees nie – jy moet net deeglik kan pak, sê Zigi Ekron.

41. Die nonne in Etosha. Met Sophia van Taak
’n Non bly ’n effens ongewone verskynsel. Dis soms moeilik om te glo dat hulle ook hou van toer en wildkyk, sê Sophia van Taak.

40. Die nag van die snorkes. Met Evan Naudé
’n Nag onder die sterre kan heerlik wees, maar dan moet jy die regte geselskap hê. Of oorpluisies, het Evan Naudé uitgevind.

39. Ken jy die tipe? Met Zigi Ekron
Daar is meer as een soort tipiese kampeerder en as jy mooi kyk sal jy hulle om jou raaksien; dalk selfs op jou eie staanplek, sê Zigi Ekron.

38. Etosha... waar die leeus Afrikaans verstaan. Deur Piet Grobler
Piet Grobler, destyds ’n wildbewaarder in Etosha, beweer hy was op sy dag die wêreld se vinnigste man te perd. Só het hy dit reggekry.

37. 'n Bondige gids vir nie-voëlkykers. Deur Schalk Kotze
Vir voëlkykers is daar nie medisyne nie, sê Schalk Kotzé. Daarom deel hy ’n paar wenke met die oog op ’n gelukkige huwelik.

36. Sweef soos 'n... arend? Met Jaco Kirsten
Jy hoef nie baie geld te hê om aan avontuursport deel te neem nie. Die avontuur wat jy kry, is soms net effens anders as wat jy verwag het.

35. 'Full throttle' op vakansie, Met Sophia van Taak
’n Seevakansie is nie volmaak sonder ’n stukkie vis oor die kole nie. En die kole is nie werklik kole as daar nie ’n paar stories en grappe vertel word nie, glo Sophia van Taak.

34. Van vele vure. Met Toast Coetzer
Almal ken ’n braaivleisvuur, maar wat is ’n staanvuur? Hoe benut jy ’n kookvuur? Wanneer raak ’n braaivuur ’n kuiervuur? Ken jy jou Suid-Afrikaanse vure?

33. Kersfees kom vroeg in die Diep-Karoo. Deur Dana Snyman
Dana Snyman se Datsun Pulsar breek op Oukersaand in die platteland – en hy beleef ’n Kersfees met ’n verskil.

32. Die nag toe ek blind geword het. Met Jaco Kirsten
’n Geel motorfiets, ’n kronkelrige agterpaadjie, ’n stikdonker nag... en jy’t ’n resep vir moeilikheid. En ’n wonderwerk. Jaco Kirsten vertel.

31. Vryheid is 'n fiets. Met Leon-Ben Lamprecht
Min dinge is meer sorgeloos as ’n kind op ’n fiets. Onthou jy nog jou eerste fiets, en die eerste keer toe jy jou hande van die handvatsels gehaal het en uitgeroep het: “Ma, kyk!”

30. Grondpad na 'n gesonde lewe. Met Sophia van Taak
Die wêreld gaan net al hoe doller aanhou tol. Jy moet self besluit: Genoeg is genoeg, ek sal moet afrat vir sielsbehoud. Sulke tye is dit goed om ’n slag ’n grondpad te gaan ry.

29. 'n Tjoppie vir die Tankwa. Deur Gideon Brückner
Wanneer die Tankwa-Karoo roep, moet jy antwoord. En wanneer die hunkering na braai só erg raak dat jy rowwe bergpasse aandurf in jou soeke na ’n tjoppie, moet jy weet: Jy het die skoot hoog deur.

28. 'n Regte kar kort 'n regte naam. Met Jaco Kirsten
Waar’s al die rygoed met die mooi name? Miskien is al die lekker name reeds gevat – en nou moet hulle nuwes “opmaak.”

27. Een aand in 'n bar op die 'Bok. Met Sophia van Taak
Wanneer jy alleen reis, sit jy gewoonlik alleen aan vir ete. Maar dit beteken nie jy gaan ’n tekort aan geselskap hê nie...

26. Toe ek klein was... Met Toast Coetzer
Destyds was die wêreld veel groter en vreemder as vandag. Toast Coetzer onthou sy kleintyd-vakansies.

25. Vliegvoos en vlugvies. Met Jaco Kirsten
Daar is eintlik net twee soorte mense: die wat nog nie op ’n passasiersvliegtuig was nie en diegene wat dié ervaring verpes.

24. 'n Goeie gewoonte. Met Sophia van Taak
Daar’s leeglê en dan is daar stoepsit. Eersgenoemde word gereken as die duiwel se oorkussing. Laasgenoemde, daarenteen, is ’n heilsame tydverdryf.

23. Waar die pad smaller raak. Met Toast Coetzer
Die lewe is te kort om dit binne die mure van ’n stad te slyt. Iewers daar buite – dalk nie so ver as wat jy dink nie – is daar ’n tweespoor-paadjie wat roep... en rustigheid wat wink, glo Toast Coetzer.

22. Ek en my Beetle. Met Toast Coetzer
’n Volkswagen Kewer is ’n unieke kar. En dit verg unieke karaktertrekke om die eienaar van een te wees, sê Toast Coetzer.

21. Waar's die 'kêffie'-hamburger? Met Jaco Kirsten
Die vroeë jare negentig is nie net gekenmerk deur groot politieke veranderings in Suid-Afrika nie. Dit was ook die begin van die einde vir die hamburger soos ons hom geken het, sê Jaco Kirsten.

20. Nog 'n Royal groet. Deur Willemien Brümmer
Wanneer ’n hotel sy deure sluit, sterf daar iets saam met hom. Willemien Brümmer onthou die Royal Hotel op Ladismith.

19. Slagspreuke vir die winter. Met Sophia van Taak
Tot daardie dag dat die slim ouens uitvind hoe mense ook kan hiberneer, sal die winter maar altyd ’n beproewing bly. Dis net ’n paar oorlewingsmantras wat ’n mens deur dié seisoen kan dra...

18. Ek tree aan vir 'n potjie verspoeg... Met Toast Coetzer
Is jy gebore om koedoedrolle te spoeg?

17. Moleste met muskiete. Met Esma Marnewick
Bitter min vakansies verloop sonder ’n konfrontasie met een of ander gogga. Dinge vererger natuurlik as jy – soos die ou mense altyd gesê het – soetbloed het. Esma Marnewick is een van die ongelukkiges.

16. Op pad na intervarsity. Met Jaco Kirsten
’n Epiese reis in Afrika kom nie naby baie van ons se eerste werklike reis nie – intervarsity toe. Jaco Kirsten vertel.

15. Die bus na Dar es Salaam. Met Esma Marnewick
Openbare vervoer is nie die vinnigste of veiligste manier om deur Afrika te reis nie. Maar, sê Esma Marnewick, om die draaivleisvuur bly dit maar van jou beste stories...

14. Die hele wêreld in jou kop. Met Sophia van Taak
As jy klein is, is die wêreld ’n gróót plek. Met die klem op “plek”, want dis mos alles in net één kol – jou tuisdorp, onthou Sophia van Taak.

13. Die verskil tussen 'n flits en 'n 'toorts'? Met Jaco Kirsten
Jy kry groot en klein flitse, floues en sterkes. Maar jy moet ver soek vir ’n ordentlike toorts.

12. Reën. Met Toast Coetzer
Reën is alles. Sonder reën kan die boer niks doen nie. Sonder reën is die aarde dor – die gras vrek en waai weg, bossies word net stokkies in die grond. Sonder reën raak alles erger.

11. Ons (vakansies) is nie almal so nie... Met Esma Marnewick
Tieners wil meestal vakansie hou in kampterreine waar nuwe maats en lifesavers wag. Maar wat as Pa ander planne het?

10. Lank leef beskuit! Met Toast Coetzer
Beskuit is ’n nederige ding. Maar dit het ons almal help grootmaak. Toast Coetzer onthou sy ma (en ander tannies) se beskuit.

9. Toe breek ek Griekeland... Met Pierre Steyn
Die Griekse ekonomie weet tans nie of hy ’n komedie of ’n tragedie is nie... En dis nie die gevolg van ’n lui nasie wat te veel skuld gemaak het nie; dis mý skuld. Ek het hom lank terug al geknak.

8. Die Citi's in my lewe. Met Toast Coetzer
Baie van ons het al ’n Citi Golf bestuur, óf altans was al passasier in een gewees. Erns Grundling vertel sy ervaringe met dié unieke karretjies, so eie aan Suid-Afrika.

7. Jy lol nie met tradisie nie. Met Sophia van Taak
’n Desember-vakansie saam met die familie is baie soos ’n Krismisklapper: Kleintyd het jy groot verwagtinge, maar namate ’n mens ouer word, besef jy die grappies is maar dieselfde en die geskenkie dikwels ’n wit olifant. En as daar met genoeg drif in teenoorgestelde rigtings getrek word... wel, dan kan dinge met ’n hengse knal eindig!

6. Suidwaarts met Saki en Ayumi. Met Toast Coetzer
In Namibië laai Toast Coetzer twee Japannese rylopers in sy kar. En voer hulle biltong en koeksisters...

5. Verloor jou hart op die buurman. Met Pierre Steyn
Het ’n vakansieplek jou al ooit so aangegryp dat jy sommer vir altyd daar wil bly? Ek sal jou goed glo, veral as daai plek Namibië is.

4. Deur Gugs op 'n jakkalsdraffie. Met Erns Grundling
’n Mens se eerste padwedloop is nooit maklik nie. Erns Grundling s’n was op Versoeningsdag – 10 km deur Gugulethu.

3. Die vreugde van die alledaagse. Met Sophia van Taak
Reise na die eksotiese uithoekies van die aardbol is een van die dinge waarvoor ons lewe. Maar dit kan tog nie ál wees wat ’n mens op jou oudag wil onthou nie? Die gewone goedjies is net so spesiaal.

2. Daai draffie oor die pad. Met Toast Coetzer
As ’n mens ry en iets hardloop oor die pad, kan jy sommer aan die manier van hardloop sien watter dier dit is. Toast Coetzer verduidelik.

1. Sout van die aarde. Met Francois Haasbroek
Wanneer jy die pad na die Kalahari vat, berei jy jou voor op die woestyn – jy pak sonskerm en ’n breërandhoed in. Maar hoe gemaak as dit skielik reën en die Kalahari se gewoonlik droë panne vol water staan?
Recommended

GROOTMAN EXCLUSIVE MIXTAPES

Hope Restoration Ministries

No Politics. Just House. By Alma T

Fr T Thought Of the Day

Afternoon Drive with John Maytham

CRC - Pastor At Boshoff

Ideas That Matter Podcast by Vusi Thembekwayo

My Deep Is Not Your Deep

BIBLE MEMORY | Mnemonics, Scripture, Bible Study, Neuroscience, Trust in God, Memorization

Business Unusual

Solo Thato Sessions

DJ H-tee Mixtapes