
Die bankroof – ’n vervolgverhaal
Die bankroof, geskryf deur Joe Kleinhans, speel af in Maraisburg, 'n dorpie in die Suid-Kaap, waar 'n ou bank oor 'n naweek beroof word. Die roof herinner aan 'n historiese tonnelroof en bring die gemeenskap in beroering, veral omdat miljoene én die inhoud van sluitkissies verdwyn. Kaptein Van Rooy, reeds oorlaai met onopgeloste sake, moet die ondersoek hanteer terwyl die media en inwoners druk uitoefen. Sy eksvrou, die ondersoekende joernalis Rachel Wolvaardt, arriveer ook en bemoeilik sake verder. Die verhaal ontvou oor 60 episodes en kombineer spanning, misterie en drama.
Episodes
Die bankroof – Episode 1
Daar is ʼn bankroof in Maraisburg. Kaptein Van Rooy besef onmiddellik daar’s ooreenkomste tussen dié bankroof en die een van Standard Bank in 1977 in Krugersdorp. Hy besef die media gaan op die dorp toesak. Waarop hy nie voorbereid was nie, is dat die top- ondersoekende joernalis wat daar opdaag, sy voormalige vrou, Rachel Wolvaardt, is.
Die bankroof – Episode 2
Rachel Wolvaardt doen haar ding, al beteken dit sy meng by ʼn polisie-ondersoek in. Dit ontstel kaptein Van Rooy. Hoe minder Magriet Manders wil glo sy was by die bankroof betrokke, hoe meer dui inligting op die teendeel.
Die bankroof – Episode 3
Dis nou maar een maal hoe die lewe is: Vincent Vogel kry die een oomblik ʼn onverwagse fantastiese aanbod, en die volgende oomblik ontvang hy nuus wat hom byna ʼn hartaanval gee.
Die bankroof – Episode 4
Rachel Wolvaardt en Philip Putter het duidelik nie ooghare vir mekaar nie. Philip besluit dis tyd om die goeie werk wat sy oorlede vrou gedoen het, te laat herleef. Wat doen hy? Wie loop op sy spoor?
Die bankroof – Episode 5
Vincent daag nie by Juliana se prokureur op nie. Sy is baie ongelukkig daaroor en staan hom by sy huis voor. Hulle gee mekaar gas. Iemand nooi vir Vincent speelpark toe met ʼn doel.
Die bankroof – Episode 6
Nettie Neser word lank oor ʼn ene meneer Brown ondervra. Shirley ry om die aand op Kleinbult oor te slaap, maar dit word ʼn uitstappie met ʼn lelike nadraai.
Die bankroof – Episode 7
Wie help Shirley Adams uit haar verknorsing en hoe? Sy en Nettie sit lelik vas. Daar kom ʼn skokkende waarheid op Philip Putter se plaas aan die lig.
Die bankroof – Episode 8
Die knap wyse waarop Koevoet Bruinders gesorg het dat hy op parool vrygelaat word, verstom mense. Die kaptein en Magriet stamp weer koppe. Het die Pauline Manders Hulpfonds en die moord op Fanie Manders enige verband met mekaar?
Die bankroof – Episode 9
Vincent loop hom in ʼn ontstelde Shirley vas en die vonke spat. By wie gaan soek hy troos? Shirley besluit dis tyd om die polisie daadwerklik by te staan.
Die bankroof – Episode 10
Vincent begin om Juliana se sekuriteitstelsel op te gradeer. Maar ná ʼn besoek van die polisie verloop die dag van sleg na slegter. Juliana moet inderhaas haar afsprake kortknip en terugjaag huis toe … en kry ʼn skok.
Die bankroof – Episode 11
Rachel en Philip stamp weer koppe. Die Fanie Manders Hulpfonds saai groot verdeeldheid in die dorp. Daar is iemand wat besluit dié fonds sal ʼn werklikheid word al spat die vonke.
Die bankroof – Episode 12
Kaptein Van Rooy en die joernalis Rachel hou piekniek op die wal van die Canolarivier, maar dis meer as net ʼn onskuldige piekniek. Iemand bied ongevraagd hulp aan om te probeer verseker die Fanie Manders Hulpfonds word ʼn werklikheid.
Die bankroof – Episode 13
As Juliana gedink het haar probleme is agter die rug, is sy verkeerd. Nettie bring die slegte nuus wat Juliana laat rondskarrel. En net toe sy dink sake kan nie erger nie, gebeur die ergste.
Die bankroof – Episode 14
Nettie vat Juliana ná ʼn droefgeestige middag huis toe vir hulle eerste werksessie – dit word ʼn verrassing. Iemand daag by Potpourri op spesiaal om ʼn paar “inkopies” by Nettie te doen. Magriet se dag sluit af met ʼn skok.
Die bankroof – Episode 15
Vincent kry ʼn besoek wat hom heeltemal gooi. Die volgende oggend word hy Kleinbult toe ontbied, en hy kom geskok op Maraisburg terug. Hoekom ry hy met die nuus reguit Potpourri toe?
Die bankroof – Episode 16
Juliana en Vincent vier uiteindelik hulle vennootskap. Koevoet se erfgename ontlok steeds intense bespreking. Die kaptein is duidelik nie gewild nie, want iemand gee hom gas.
Die bankroof – Episode 17
Die burgemeester is op die oorlogspad. Nettie kry ʼn vreemde pakkie om af te lewer. Sy kom op iets af wat haar hewig ontstel … en met rede.
Die bankroof – Episode 18
Philip en Shirley loop mekaar raak. Shirley se senuwees is op hol en sy neem in dié toestand ʼn besluit. Nettie kry ʼn besoek by haar woonstelblok wat haar verras.
Die bankroof – Episode 19
Waaroor loop Philip vir Magriet dié keer storm? Hy moet hulp inroep. Iets wat die burgemeester kwytgeraak het, laat hom wonder. Magriet praat haar mond verby, en dit het gevolge.
Die bankroof – Episode 20
Kyk wie kuier saam met die “piekniekgangers” op die walle van die Canolarivier! ʼn Bekende dorpenaar word daarvan verdink dat hy die bankroof se tonnelsand in die Canolarivier gegooi het. Hoe het Pauline Putter werklik destyds gesterf?
Die bankroof – Episode 21
ʼn Volgende berugte koevert daag op en sorg weer vir konsternasie. Wie word daarmee stormgeloop, en waaroor gaan die bohaai?
Die bankroof – Episode 22
Vincent sien skielik kans om sonder sy prokureur sake aan te pak. Hy kom gou agter die kaptein het ʼn lang lys van beskuldigings. Hy gaan soek troos.
Die bankroof – Episode 23
Iemand van wie ʼn mens dit nie verwag nie, ontferm haar oor Shirley. Philip en Magriet verskil weer heftig van mekaar. Shirley besluit om te gaan hulp soek.
Die bankroof – Episode 24
Juliana is passievol besig om stemme te werf vir die tussentydse verkiesing. Rachel is ywerig besig om haar feite oor die berugte koeverte op datum te kry. Sy merk ʼn motor op wat oral opduik en begin wonder.
Die bankroof – Episode 25
ʼn Onbekende man onder die koelteboom sorg vir ʼn opskudding. Die volgende berugte koevert maak sy verskyning en sorg vir ontsteltenis … en met rede.
Die bankroof – Episode 26
Shirley is diep bekommerd en kry raad. Hoe en waar is Fanie Manders destyds vermoor? Magriet word geskok oor ʼn standbeeld wat in wording is.
Die bankroof – Episode 27
ʼn Bekommerde Juliana en Vincent sit dringend koppe bymekaar. Vincent word verras by sy huis. Daar is ʼn koorsagtige geskarrel op Maraisburg – die dag van die tussentydse verkiesing breek aan.
Die bankroof – Episode 28
Die spanning loop hoog by die saal waar die stemme ná die verkiesing getel word. Juliana word daar ingewag deur iemand wat haar ʼn lelike skrobbering gee.
Die bankroof – Episode 29
Die vorige aand se skokkende verkiesingsuitslag word druk bespreek. Kaptein Van Rooy is klaar besig met sy volgende dringende ondersoek. Magriet word tot in haar fondamente geskud.
Die bankroof – Episode 30
Die jongste skok op Maraisburg laat die dorpenaars behoorlik kwetter. Die meeste vingers wys na een mens. Die ondersoekende joernalis, Rachel, laat haar nie mislei deur skinderstories nie.
Die bankroof – Episode 31
Magriet Manders ontgeld dit toe die Kaptein by haar kantoor instorm. Die teksboodskap wat die burgemeester kort voor sy dood ontvang het, laat ʼn geskarrel ontstaan. Magriet kry onverwags hulp oor die standbeeld.
Die bankroof – Episode 32
Shirley stel grense en besluit om drasties op te tree. Die bohaai oor die uitslag van die verkiesing wil nie gaan lê nie. Die volgende berugte koevert van die bankrower word afgelewer.
Die bankroof – Episode 33
Juliana sorteer haar saak met Nettie uit op ʼn manier wat Nettie verstom. Nettie kry ʼn oproep met ʼn aanbod wat haar eweneens stom laat. Juliana het allermins vergeet wie die dolk met die verkiesing in haar rug gedruk het.
Die bankroof – Episode 34
Magriet word na die polisiestasie ontbied. Nes sy dink sy gaan vir moord gearresteer word, daag hulp op. Die komende onthulling van Fanie en Pauline se standbeeld sorg steeds vir groot ongelukkigheid.
Die bankroof – Episode 35
Joernalis Rachel Wolvaardt is besig om te krap waar dit ongemaklik raak. Sy is dringend op die spoor van prokureur Louis Ludik. Met watter belangrike inligting kom sy terug uit die Kaap?
Die bankroof – Episode 36
Daar is ʼn hand vol onbeantwoorde vrae oor die Fanie Manders Hulpfonds wat Rachel laat kopkrap. Sy bedink ʼn plan om Philip in eie munt terug te betaal.
Die bankroof – Episode 37
Vincent kry ʼn onverwagse opdrag wat dringend afgehandel moet word. Prokureur Louis Ludik bly om verskeie redes op Rachel se radar. Sy vind belangrike dinge uit oor Louis.
Die bankroof – Episode 38
Juliana en Philip stamp nog ʼn keer koppe. Philip kry ʼn besoek op Carpe Diem wat hom verras. Dit dwing hom om deel te word van ʼn besoek aan ʼn huis in Kleinbult. Dié gebeure sorg vir ʼn opskudding op Maraisburg.
Die bankroof – Episode 39
Maraisburg kan nie uitgepraat raak oor die jongste ontdekking in Kleinbult nie. Vincent het sy bedenkinge hieroor. Hy kry ʼn oproep met ʼn uitnodiging wat hom verras.
Die bankroof – Episode 40
Die bankrower laat weer van hom hoor met ʼn dik koevert vol ontstellende foto’s. Die groot vraag is: Uit wie se sluitkissie kom die foto’s?
Die bankroof – Episode 41
Op die oggend van die onthullingseremonie kom Juliana en Nettie agter daar is groot fout: Magriet antwoord nie haar selfoon nie. Nettie kry ʼn aanbod wat haar verras.
Die bankroof – Episode 42
Rachel Wolvaardt is op die oorlogspad, en die kaptein moet dit ontgeld. Philip gaan stap ʼn draai en sien iets wat hom na sy selfoon laat gryp om dit op kamera vas te lê. Maar dis nie al wat Philip ontstel nie.
Die bankroof – Episode 43
Shirley deel, met die beste bedoelings, fluks raad uit. Maar soms bring raad nie goeie resultate nie. Iemand raak soek, en dit sorg vir groot bekommernis en konsternasie.
Die bankroof – Episode 44
Juliana is opnuut geskok, toe sy Vincent in die hospitaal besoek. Die dag breek aan waarop die nuwe voorsitter van die Sakekamer verkies moet word. Daar is nuus oor die koeël waarmee die burgemeester geskiet is.
Die bankroof – Episode 45
Die kaptein is ongelukkig omdat Rachel in Kaapstad vashaak en niks van haar laat hoor nie. Sy verras hom met ʼn paar brokkies interessante nuus. Hy kry ʼn skok wat hom soos vuishou in die maag tref.
Die bankroof – Episode 46
Philip hou nie daarvan dat die kaptein hom in sy Voorsitterskantoor besoek nie – en dit agter ʼn toe deur. Rachel keer uiteindelik terug vanaf Kaapstad. Haar inligting werp nuwe lig op die ondersoek na die bankroof.
Die bankroof – Episode 47
Shirley hoor uiteindelik die waarheid, en sy is stukkend. Rachel betrek vir Magriet as haar hulp-in-nood. ʼn Gesprek in die park tussen Magriet en Shirley neem die bankroof in ʼn nuwe rigting.
Die bankroof – Episode 48
Juliana se groot dag breek aan. Die Julies Garage word ingewy. Een gelukkige gas by die spoggeleentheid wen ʼn splinternuwe motor. ʼn Ongenooide gas daag op. Wie ontmoet mekaar buite die tent vir ʼn gesprek?
Die bankroof – Episode 49
Shirley kry welkome hulp, maar terselfdertyd ʼn mondvol inligting wat haar op die verkeerde voet betrap. Magriet draai weer ʼn keer voor die tronkdeure om. Die skokke is nog lank nie verby vir Shirley nie.
Die bankroof – Episode 50
Juliana wil Magriet help. Vincent loop hom vas op Kleinbult. Nettie kry onverwags ʼn uitnodiging wat haar op haar voete laat dink. Met haar besoek aan Philip se wynkelder vat sy ʼn gaping soos ʼn ware spioen.
Die bankroof – Episode 51
Juliana het genoeg gehad van haar vennoot met sy “breinfloutes”. Hy ontgeld dit. Die foto’s wat Nettie in Philip se kelderverdieping geneem het, kom nou na vore. Shirley word na Kaapstad ontbied vir ʼn belangrike ontmoeting.
Die bankroof – Episode 52
Shirley se missie in Kaapstad, om met Gert Greef in die gevangenis te praat, mag alleen gebeur sonder dat Rachel by is. Die missie en gesprek lewer ʼn rits skokke op.
Die bankroof – Episode 53
Die kaptein stap ongenooid by Philip se Voorsitterskantoor in en ontstel hom met drie dringende sake. Waaroor gons dit skielik op die dorp en laat al wat ʼn joernalis is na net een spesifieke plek jaag?
Die bankroof – Episode 54
Shirley is ontsteld en Vincent probeer help, maar daar’s ʼn gekonkel. Vincent hoor ontstellende nuus wat hom noodsaak om te ry en die feite te gaan verifieer.
Die bankroof – Episode 55
Magriet sukkel om te verduidelik hoekom sy na Voorsitter Philip Putter se kantoor toe is om aan die leeu se baard te gaan vat. Vincent is nie verniet onrustig nie. Hy kry ʼn besoek wat hom laat skrik. ʼn Skokkende aankondiging tref Maraisburg.
Die bankroof – Episode 56
Louis Ludik dring daarop aan om eers met Rachel alleen te praat voor dat hy met enige polisieman praat. Die kaptein wil hê Rachel moet die geleentheid gebruik om Gert Greef en Rampies Reyneke se weergawes van die bankroof te bevestig. Wat het van Sally Bruinders geword?
Die bankroof – Episode 57
Dit gons in Maraisburg oor die man in die tronk se vertellings. Nettie loop benoud rond. Die feit dat Magriet los en vas oor die video by die verkeerde plek gepraat het, spook by haar.
Die bankroof – Episode 58
Daar is ʼn hand vol naskokke ná die tragiese gebeure in Potpourri. Magriet kom haal Nettie en voel skuldig oor die gebeure. Onverwags word daar links en regs nuwe vennootskappe aangebied.
Die bankroof – Episode 59
Rachel vertel Magriet die besonderhede van al die sake wat haar raak. Dis onaangename inligting, maar die volle waarheid moet uit. Rachel het ʼn verrassing vir die kaptein. Vincent daag by die kaptein se huis op en gee ʼn nuwe wending aan die verloop van sake.
[Slot-episode] Die bankroof – Episode 60
Die kaptein se “gutfeel” lei hom na ʼn huis wat Rachel na haar asem laat snak. Twee polisiemotors daag op met ʼn lasbrief om die kaptein by te staan. Die laaste hoofstuk van die bankroof hou ʼn skok of twee in.











